Skrywersfokus

Christine le Roux

Biografiese inligting

Christine le Roux was 'n skuilnaam van Eleanor Baker.

Eleanor Elizabeth Baker is op 21 Augustus 1944 gebore en matrikuleer aan die Hoërskool F.H. Odendaal in Pretoria. Sy behaal in 1968 haar meestersgraad in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria met lof en met die romankuns as verhandelingtema. Eleanor se eerste roman, Wêreld sonder einde, verskyn in 1972. Haar man, Walter, was in die diplomatieke diens en hulle het in Teheran, Den Haag, Montreal en Brussel gewoon. Tydens haar loopbaan het sy 15 romans, twee draaiboeke en verskeie jeugboeke geskryf. Die kwart-voor-sewe-lelie is in 1991 vir die Ou Mutual-prys vir letterkunde benoem, terwyl Verbeelde werklikheid in 1996 op die kortlys was vir die M-Net-boekprys. Daar is spore op die maan het in 1992 die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Scheepers-prys vir jeuglektuur gewen en is vir skole voorgeskryf.

Sy is op 1 Julie 2002 op 57-jarige ouderdom oorlede. Haar laaste boek, Die Ander Marta, het in Oktober 2002 verskyn.

Skuilname

Sy het 30 liefdesverhale onder die skuilnaam Christine le Roux geskryf en vyf speurromans as Alex Muller die lig laat sien. Een van haar liefdesromans, Die ontbrekende helfte (Le Roux), is in 1996 met die Ela Spence-medalje vir ontspanningsliteratuur bekroon.

Het jy geweet?  

  • Baker se verblyf in die buiteland was dikwels die inspirasie vir haar romans. Haar reisboek, As ’n pou kon vlieg (1980), vertel van hul verblyf in Iran wat met die revolusie en afsetting van die sjah in 1978 gepaard gegaan het. Haar seun Alexander is in Teheran gebore, en sy was hoog swanger met Christine toe sy uit die land moes vlug.
  • In 1993 en weer in 1995 was sy een van vier skrywers wat gekies is om aan TV1 se projek Vierspel deel te neem. Elkeen moes ’n draaiboek skryf wat gegrond is op dieselfde basiese gegewe, en elke draaiboek het ’n ander regisseur gehad.
  • Baker se Weerkaatsings het as vervolgverhaal in die Deense tydskrif Allers in 1986 verskyn, asook dieselfde jaar in ’n Finse tydskrif.
  • ’n Toneelverwerking van Die ander Marta het in 2005 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn gedebuteer.


Boeke steeds in druk:

Eleanor Baker Omnibus 2, Human & Rousseau (2008)
Weerkaatsings, Human & Rousseau (1984)  

Christine le Roux:
Christine le Roux Omnibus 10, Human & Rousseau (2008)

Alex Muller:
Rooi Angelier, Human & Rousseau (1999)

Al Eleanor Baker se boeke is wel op Druk Op Aanvraag beskikbaar.

Prosa

1972 Wêreld sonder einde
1973 Splinterspel
1975 Morketiden
1978 Monica
1980 As 'n pou kon vlieg
1981 ’n Geslote boek
1981 D.F. Malherbe: Mens en meester (biografie)
1983 Die Nels van Groenewoud (jeugboek)
1984 Weerkaatsings: ’n sprokie
1985 Dossier van ’n gyseling
1988 Die kwart-voor-sewe-lelie
1991 Daar is spore op die maan (jeugboek)
1991 In die middel van die Karoo
1993 Die nes
1996 Verbeelde werklikheid
1998 Groot duiwels dood
2001 ’n Ou begin
2002 Die Ander Marta
2006 Eleanor Baker Omnibus (Die kwart-voor-sewe-lelie en In die middel van die Karoo)
2008 Eleanor Baker Omnibus 2 (Die nes en Wêreld sonder einde)

Draaiboeke

Vierspel I (1993)
Vierspel II (1995)

Bekronings

Weerkaatsings – FAK-prys vir ontspanningslektuur in 1984
Daar is spore op die maan – SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Scheepers-prys vir jeuglektuur in 1992

Vertalings  

 
  • Weerkaatsings is in 1986 deur Eleanor self as Reflections in Engels vertaal. Dit is ook in Sweeds (Leva på lånad tid, 1987), Hebreeus, Deens en Fins vertaal.
  • Groot Duiwels Dood, wat handel oor die Anglo-Boereoorlog, is in Nederlands vertaal het en het in 2000 as Geschroeide Aarde by De Groot Goudriaan verskyn.
   


Uittreksels uit resensies

“Eleanor Baker is 'n meesterlike stilis, wat weet wanneer om haar leser te terg en wanneer om te vertel. Baker se bekende, maar altyd vars en onverwagse humor en werklike nuwe kyk na ons oënskynlik ondramatiese klein bestaan, maak van hierdie teks weer eens 'n hartsboek. Die ander Marta is die bekoorlike afsluiting van 'n besonderse klein oeuvre in Afrikaans.” – Leana Lategan, Volksblad (2003)

“Ook Baker se eiesoortige humor sy laat nooit toe dat 'n karakter homself te ernstig opneem nie! en die sofistikasie van haar aanbieding, plaas haar werk op 'n ander vlak. In Die ander Marta is die subtiele wyse waarop sy binding tussen die twee “aparte” storielyne van Marta en Hendrik bewerkstellig, en die metafore van huis en water volhou, verrykend vir die teks. Dit is inderdaad 'n slag vir ons letterkunde dat Eleanor Baker kort voor die verskyning van hierdie 15de roman, skielik oorlede is.” – Gretel Wybenga, Beeld (2002)

’n Ou begin het nie die statuur van Baker se vorige roman, die aangrypende Groot duiwels dood (een van die beste romans van die afgelope jare oor die Anglo-Boereoorlog), waarin ook met die briefgegewe gespeel word nie. Tog slaag Baker om in 'n Ou begin 'n leesbare web van stories te spin, wat sinvol uitgediep word en die leser boei. Ook daarmee toon sy dat sy een van die voorste Afrikaanse vroueskrywers van ons tyd is.” – Dorothea van Zyl, Rapport (2001)

Boeke deur hierdie skrywer

Christine le Roux Omnibus 4 (ePub) Christine le Roux Omnibus 3 (ePub) Christine le Roux Omnibus 1 (ePub) Christine le Roux-Omnibus 5 'n Kwessie van tegniek