Skrywersfokus

Margaret Bakkes

Biografiese inligting

Margaret Magdel Bakkes is op 14 Desember 1931 op Sterkstroom in die Oos-Kaap, gebore. Sy het op die plaas Klapkloof in die distrik Sterkstroom en die Stormberge grootgeword. Sy het haar skoolopleiding aan o.a. Girls’ High, Queenstown, gehad en aan Sterkstroom Hoër gemaktrikuleer. Ná skool werk sy ’n jaar lank in die Staatsvertaalburo. Daarna studeer sy aan die Universiteit van Pretoria en die Pretoria Onderwyskollege met Afrikaans, Engels en Geskiedenis as hoofvakke voordat sy twee jaar lank skoolhou.

Margaret maak haar naam aanvanklik as skrywer van kortverhale in tydskrifte. Haar eerste kortverhaal word in 1954 in Rooi Rose gepubliseer. In die 1960’s het Leon Rousseau, die “Rousseau” in die uitgewershuis Human & Rousseau, haar gebel en voorgestel dat van haar gewilde vervolgverhale in boekvorm uitgegee word. So verskyn Die verste reis in 1966.

Sy het meer as dertig boeke – romans en kortverhaalbundels – geskryf, en talle kortverhale is in bloemlesings opgeneem. Verskeie van haar kortverhale is in Nederlands vertaal en van haar publikasies verskyn in die Vlaamse tydskrif ZAN.

Sy is getroud met die historikus Cas Bakkes en het vier kinders: Johan, Marius, Matilde en Christiaan.

Het jy geweet?

· Die bekende skrywer Hennie Aucamp is haar kleinneef, en haar kinders Christiaan en Johan is ook skrywers.
· In 1999 is Susanna die geliefde vir die verhoog verwerk met Joanie Combrink, Susanne Beyers en Johann Nel in die hoofrolle.
· Van haar boeke (die roman Elegie vir 'n onbekende, en die bundel verhale Wat op die middag verwoes, asook talle verhale in bloemlesings) is vir sekondêre skole voorgeskryf en ’n paar van haar romans is oor die radio voorgelees.
· Die eerste uitgawe van die Sondagkoerant Dagbreek in 1965 het begin met ’n nuwe vervolgverhaal van Margaret Bakkes.



Boeke steeds in druk:

Klein land van die liefde, Human & Rousseau (2011) 
'n Ver plek vir Zilla
, Human & Rousseau (2010)
My ouma in kaneel, Human & Rousseau (2009)

Prosa

1966 Die verste reis
1970 ’n Kring Voltooid
1972 My broer se hoeder
1973 Brood en klip
1973 Beroering op Bergdal
1973 Bitterwater
1973 Soetdoring
1973 Brood en klip
1973 ’n Baksel in die more: Boerestories uit die Stormberge (saam met Hennie Aucamp)
1975 Waar jou skat is
1975 Hou terug die winter
1976 Klein land van die liefde
1977 Wat op die middag verwoes (kortverhale)
1977 Ver plek vir Zilla
1978 Die Margaret Bakkes-omnibus (Vreemde tuiste, Gebonde jare en Die ver reis)
1979 Sing vir ons, Mathilda (kortverhale)
1981 Die hart van Meeubaai
1982 Die Margaret Bakkes-tweeluik
1984 Elegie vir ’n onbekende
1984 Die langste nag en ander verhale (kortverhale)
1985 Ontheemdes (kortverhale)
1986 My ouma in kaneel (jeugverhale)
1986 Pad uit die vreemde
1987 ’n Kring voltooid
1988 By omdraai verby
1988 Susanna die geliefde
1989 Kroniek van die sewe blou waens: die kort lewe van Gert Maritz
1990 Terug van die doringpad (jeugverhale)
1995 Die reise van Olga Dolsjikowa en ander omswerwinge (kortverhale)
2005 Littekens (kortverhale)
2007 Bitterwater en Soetdoring
2007 Verhale uit die Stormberge (Altyd kom die somer weer en Brood en klip)
2007 Verhale van die Weskus (Waar jou skat is en In die hart van Meeubaai)
2009 My ouma in kaneel (heruitgawe)
2010 'n Ver plek vir Zilla
 

In bloemlesings:

1985 Hoogtepunte in die Afrikaanse verhaalkuns – A.P. Grové
1986 Die Afrikaanse kortverhaalboek – deur Abraham H. de Vries
1991 Vertellers 2 – Merwe Scholtz
1992 Vrou: Mens – Corlia Fourie
1994 Vrouevertellers 1843-1993 – Annemarie van Niekerk
1997 Dogters van Afrika – Riana Scheepers
1997 Wys my waar is Timboektoe – Hennie Aucamp
1998 Boereoorlogstories – Jeanette Ferreira
2000 Uit die kontreie vandaan – Abraham de Vries

Bekronings

Helpmekaarprys vir ontspanningslektuur (1989) – Susanna die geliefde

Vertalings

1990 The Heart of Gull Rock (vertaling van Die hart van Meeubaai) – vertaal deur Madeleine van Biljon

Uittreksels uit resensies

“Trouens, met weinig uitsonderings, is Littekens suiwer plesier, kortkuns op sy beste, die woorde nuut genoeg vir enigeen wat dalk daarna smag. As mense optree soos die meeste van die persoonlikhede in Margaret Bakkes se boek, en ander hulle so kan beskryf, het ons reeds die "verandering" waarna so naarstigtelik pryse geskep word.” – Madeleine van Biljon, Volksblad (2005)

“Die taalgebruik is helder, sonder die tierlantyntjies en taalkrulle wat kenmerkend is van die skryfstyl van baie van Bakkes se tydgenote. Die verhale is oortuigend en realisties. Die deernis, menslikheid en insig bly ’n mens lank by. Saam bevat hierdie drie boeke ’n broodmandjie vol stories wat die vraatsugtigste én puntenerigste lesers lank sal besig hou.” – Jaybee Roux oor die drie omnibusse wat in 2007 verskyn het, Beeld (2008)

“Sy is ook lief vir die randfiguur – haar Elegie vir 'n onbekende is een van die mees onderskatte boeke in Afrikaans.” – Cecile Cilliers, Die Burger (2003)

Boeke deur hierdie skrywer

'n Ver plek vir Zilla (ePub) My ouma in kaneel (ePub)